Hotel Helmeringhausen

Perfekte oornagplek of stilhouplek vir middagete.

STUUR EPOS
TUISBLAD
ENGLISH 
TEL +27 (0) 21 855 0395


Die Helmeringhausen Hotel in die piepklein nedersetting Helmeringhausen in die suidelike streek van Namibië is die ideale oornagpunt tussen die Visrivier-canyon en Sesriem of Sossusvlei. Die gebied is ryk aan Duitse koloniale geskiedenis. Helmeringhausen is gestig deur Hubert Hester, wat ‘n lid van die Duitse Koloniale Troepe (of Schutztruppe) was.

Vandag maak die gebied steeds deel van ‘n plaas uit, die historiese Helmeringhausen-plaas, waar daar hoofsaaklik met karakoel-skape, bokke en beeste geboer word. Die Hotel en Gasteplaas behoort deesdae aan Björn en Katja Basler, ‘n uithaler-span. In 2011 het Katja ‘n toekenning as “Beste Hotelier” ontvang, ‘n duidelike bewys van die hoë standaarde wat by die Helmeringhausen Hotel gestel word.

Jy kan seker wees om ware Namibiese gasvryheid te ontvang: van die yskoue bier of Kaapse wyn wat die watertand geregte (‘n vastegestelde driegang maaltyd) in die ten volle gelisensieërde restaurant vergesel, tot die vonkelende swembad, tot die gesellige bier- en koffietuin wat in die Hotel se lieflike gronde wag. Die sitkamer het heerlike gemaklike banke en ‘n gesellige vuurtjie vir diegene wat net wil sit en ontspan. Die ontbyt wat by die Helmeringhausen Hotel voorgesit word is in die vorm van ‘n heerlike buffet. Selfs al bly jy nie oor by die Hotel nie, kom beproef gerus hulle appeltert – dis die beste in Namibië!

Gaste by die Helmeringhausen Hotel in Namibia gaan tuis in 22 gerieflike dubbelkamers, almal en suite en toegerus met muskietnette. Vir gaste wat selfsorg-verblyf verkies, verskaf die Hotel Helmeringhausen ‘n stylvolle selfsorg-eenheid. Hulle het ook ‘n kampterrein as jy eerder die buitelug wil geniet. Veilige parkering word verskaf.

Die personeel van die Helmeringhausen Hotel is vriendelik en ken die gebied goed. Hulle sal jou graag help om die res van jou toer te beplan. Hierdie gebied is bekend vir pragtige skoon lug, vrede en rustigheid. Die Hotel bied ‘n begeleide plaasrit aan, waartydens jy die interessante flora, wild (byvoorbeeld duiker, meerkat, bakoor-jakkals) en talle voëlspesies kan sien. Naby aan die Hotel, omtrent net 5 minute se stap, is daar ‘n heuweltjie waarop daar ‘n aantal tafels en stoele is – net die plek waar jy jou skemerkelkie kan geniet.

Die museum net langs die Helmeringhausen Hotel het talle voorbeelde van plaasimplemente wat deur die eerste boere in die gebied gebruik is. Dis die moeite werd om die ou Duitse Polisiestasie by Chamies te besoek. As jy lus voel vir ‘n potjie tennis, kan jy die sleutels vir die tennisbaan by die ontvangs van Hotel Helmeringhausen kry. Onthou om die snuisterywinkel te besoek voor jou vertrek – jy gaan beslis iets uniek en spesiaal kry om terug te neem huis toe.