MOKUTI LODGE BY ETOSHA
Luukse privaat-lodge by die Etosha-pan Nasionale Park
Alhoewel “Mokuti” die Himba-stam se woord vir “in die bos” is, is die 5-ster Mokuti Lodge op die grens van die Etosha Nasionale Park alles behalwe ‘n oefening in ontbering. Uitstekende diens en gehalte, saam met ‘n stylvolle en elegante interieur maak die Mokuti Lodge ‘n vanselfsprekende keuse vir besoekers aan die Etosha Nasionale Park en omgewing.
Die 8 Etosha Suites en 98 gastekamers is almal en suite met lugversorging, en toegerus met mini-kroeg, kluis, tee-/koffie-stasies, haardroër, telefoon en satelliet-TV.
Mokuti Lodge het swembaddens, twee tennisbane onder spreiligte, ‘n biljartkamer met twee tafels en ‘n spa/gym wat op ‘n watergat uitkyk (vir wanneer jou sessie op die trapmeul te vervelig raak …).
Die Mokuti Lodge het ook ‘n Reptielpark waar jy meer van Namibië se slange en reptiele kan leer. ‘n Aantal voetslaanroetes maak dit moontlik dat jy die veld te voet kan verken. Jy kan ook op ‘n begeleide bergfietstoer gaan – die gebied om die Mokuti Lodge is gelukkig nogal plat.
Die kookkuns wat by die Mokuti Lodge aangebied word, is gevarieerd en opwindend. Die Boma-restaurant sit Afrika-geregte voor, terwyl die Tambuti Restaurant internasionale buffets, ‘n a la carte spyskaar en “lewendige kookkuns” bedien.
Indien jy plaaslike spesialiteite onder die sterre wil geniet, moet jy gerus die twee “boslokale” by die Mokuti Lodge, Olupale en Obambo, gaan beproef. Die “Pool Bar” en Marula-kroeg bied ‘n reeks versnaperinge en drankies aan.
Mokuti Lodge voorsien oorgenoeg geleenthede vir geskeduleerde en privaat-wildritte (soggens en in die middag) na die aangrensende Etosha Nasionale Park. Jy kan wild ook vanaf ‘n uitkykplatform by die Lodge besigtig.
Daar is ook ander geriewe wat die Mokuti Lodge een van Namibië se beste lodges maak, insluitend ‘n speelgrond vir kinders, biblioteek, snuisterywinkel, vulstasie, kunsmark, kamerdiens, wasgoeddiens, babawagter, draadlose internet-verbinding en selfs ‘n privaat landingstrook.