POPA-VALLE

Basiese akkommodasie in die Caprivi Namibië.

STUUR EPOS
TUISBLAD
ENGLISH
Tel. +27 (0) 21 855 0395

Popa-watervalle is ‘n welkome oornagpunt vir besoekers wat tussen Rundu en Katima Mulilo op reis is, en is ‘n gerieflike basispunt vanwaar ‘n mens die nabygeleë Mahango Wildreservaat kan besoek.

Die ruskamp op die oewer van die Kavango-rivier word gekenmerk deur groepe volwasse knoppiesdoringbome en digte boswilg-ruigtes. Die konstruksie van die ruskamp is ‘n pluimpie in die hoed van Namibië se bewaringsowerhede, omdat die plantegroei so min as moontlik versteur is tydens die bedrywighede. Vandag waardeer al wat ‘n reisiger is die digte skadu wanneer hulle na ‘n lang, warm rit by die kamp aankom.

Van die ruskamp af is dit net ‘n kort stappie tot by die waterval. ‘n Houtbruggie is oor die stroom gebou wat verby die kampplek vloei. Dagbesoekers kan hiermee maklik by die eiland kom, en dan is dit net nog ‘n kort entjie voordat ‘n mens by die stroomversnellings uitkom.

As die rivier se watervlak laag genoeg is, kan ‘n mens van een rots na ‘n ander oor die kanaaltjies spring om die valle beter te kan sien. Jy moet egter nie verwag om ‘n “waterval” te sien nie. Die naam is eintlik misleidend omdat die valle eintlik ‘n reeks pragtige stroomversnellings is, wat deur ‘n rotsagtige kwartsietriffie veroorsaak word wat die loop van die Kavango-rivier op hierdie punt versper. Alhoewel die versnellings maar slegs 4 m daal, strek hulle regoor die rivier se breedte (wat omtrent 1,2 km is by Popa).

Wanneer die rivier in vloed is, is die riffie onder water. Dit is dus die beste om die stroomversnellings gedurende die droë seisoen te sien wanneer die blootgestelde rif etlike kleiner kanale en eilandjies sigbaar maak.

  

WAAR:
Die afdraai na die Popa Falls Ruskamp is duidelik aangedui, omstreeks 210 km oos van Rundu op die B8 in Katima Mulilo se rigting. Draai regs hier en volg die pad na Botswana vir 5 km. Jy sal dan by die ingangshek van die ruskamp aankom.

AKKOMMODASIE :
Besoekers kan kies om in baie landelike grasdakhutte te bly, of om tent op te slaan in die skaduryke kampeerplek. Elke hut bestaan uit twee kamers met twee beddens elk, asook ‘n groot balkon met ‘n werksbank, tafel en stoele.
Jy mag nie binne die hutte kook nie, maar daar is vuurmaakplekke buite, asook ‘n gemeenskaplike veldkombuis wat met ‘n yskas, vrieskas en opwasplek toegerus is. Die sentrale boma is ideal vir groepe. Die ablusiefasiliteite is ook gemeenskaplik.
Gasbeligting, beddegoed, handdoeke en seep word voorsien, maar besoekers moet hul eie kook- en eetgerei saambring.
Die kampterrein het ‘n gemeenskaplike kombuis en ablusiefasiliteite.

FASILITEITE :
Alhoewel nie-bederfbare produkte en koeldranke by ‘n kiosk reg langs die ontvangskantoor beskikbaar is, is dit raadsaam om jou eie proviand saam te bring.
Petrol word nie in die park verkoop nie, maar word gewoonlik by Divundu naby Bagani-brug, of by Mukwe (17 km verder, wes) verkoop.