Nyanga-berge in die Oostelike Hooglande van Zimbabwe is die tuiste van ‘n andersoortige Nasionale Park. Geen sub-tropiese bosse en warm klimaat nie, maar soortgelyk aan die Skotse Hooglande. Cecil John Rhodes is deur die natuurskoon van die Nyanga-gebied oorweldig, en in 1896 sy agent, ene McDonald, gevra om “vinnig ‘n stuk grond te koop voor dit alles opgeraap is.” Rhodes het hierdie stuk grond aan die mense nagelaat en dit het gelei tot die stigting van die Rhodes Inyanga Nasionale Park – vandag bekend as die Nyanga Nasionale Park.
Nyanga is in die Oostelike Hooglande van Zimbabwe geleë en is ‘n baie gewilde toeristebestemming wat gholf, voetslaan, forelhengel, pragtige watervalle en majestueuse berge bied. Berg Nyangani is die hoogste berg in Zimbabwe, en is 15 km vanaf die dorpie Nyanga geleë. Die berg is ‘n grootse 2600 m hoog. Die Mtarazi-watervalle naby Nyanga, is die hoogste watervalle in die land, ‘n hele 760 m hoog. Die Pungwe uitsigpunt bied besoekers die geleentheid om af te kyk op die asemrowende Pungwe-watervalle en die kloof van 10 kilometer.
Die gebied om Nyanga het talle artifakte wat uit die Steentydperk en Ystertydperk dateer, en ook strukture, paaie en ruïnes wat met georganiseerde landbou verband hou. Die boerderygemeenskap in die Nyanga-gebied is baie interessant – dit is ongeveer 400 jaar oud en hierdie boere het die Nyahokwe-ruïnes, die Ziwa-ruïnes, die putvalleie en die klipstrukture gebou.
Afgesien van forelhengel, gholf, hengel, ponieroetes en wildbesigtiging in die Nyanga Nasionale Park (leeu, luiperd, hiëna en ‘n verskeidenheid boksoorte), bied Nyanga ook opwindende geleenthede vir “river rafting” en kajakroei. Om aan hierdie watersport deel te neem, is dit beter om jou reis te beplan dat jy tussen Augustus en Desember in die gebied is, omdat die watervlakke dan laer is.
Troutbeck Inn naby Nyanga verskaf verblyf van ‘n baie hoë standaard met ‘n buiteklub-atmosfeer. Dink aan roomskons, tee wat plaaslik verbou word, ‘n kaggel en forelhengel in die oord se eie meer. Inn on Rupurara is ‘n kleiner onderneming, maar het onder andere ‘n toekenning vir die Beste Plattelandse Oord van die Vereniging van Reisagente in Zimbabwe ontvang. Pine Tree Inn herinner ‘n mens aan ‘n oord in die Alpe, omdat dit oor ‘n pragtige vallei met woude en bergpieke uitkyk. Pine Tree Inn is bekend vir die voortreflike cuisine en die 5-gang aandete wat elke aand voorgesit word, is legendaries. |