Shakawe is ‘n klein dorpie wat in die noordwestelike hoekie van Botswana geleë is. Dit is aan die beginpunt van die Okavango Delta geleë, naby aan Namibië en Angola. Dit verleen ook toegang tot die Caprivi-strook. Die dorpie het ‘n klein lughawe. In die 2001-sensus was die bevolking van Shakawe 4 389.
Shakawe is aan die bo-punt van die Okavango Delta geleë en bied regdeur die jaar uitstekende geleentheid vir voëlkykery. Die gebied is ryk aan kontrasterende habitatte en die diversiteit van die spesies is tot ‘n groot mate afhanklik van die wisselende watervlakke. Dit is ideaal vir reiers, visvangers, byvreters, moerasvoëls, kiewiete en sangers langs die rivier, uile, arende en klein roofvoëls in die digte oewerwoude, en laksmanne, suikerbekkies, katlagters, tinktinkies, en janfrederik binne maklike loopafstand van die rivieroewer af. ‘n Goeie voëlkyk-oggend kan meer as 100 spesies oplewer, terwyl “groot dae” gewoonlik meer as 200 spesies binne 24 uur beteken.
Die Okavango-rivier se kanale het papirus en riete wat al op hul walle langs groei en soms ook vertikale oewerbanke. Die strandmere en stil poele is bedek met lelies. Daar is seisoenale sandbanke, en oop vloedvlaktes wat met gras bedek is. Op die grens van hierdie vloedvlaktes is daar oewerwoude, droë akasiabosse, en stroke grond wat vir bestaansboerdery skoongemaak is.
Fasiliteite.
Die voëlkykery om Shakawe vind hoofsaaklik naby twee kampe, naamlik Drotsky's en Nguma Island plaas. Albei kampe kan met ‘n gewone sedanmotor bereik word en is slegs sowat 350 km vanaf Maun. Nguma Island en Drotsky's Cabins bied beide begeleide bootritte aan waartydens die rivier en vloedvlaktes verken kan word. Albei kampe bied ook uitstekende voëlkykgeleenthede op en om die gronde van die lodges, wat in pragtige oewerwoud geleë is. Dit is ook heeltemal veilig om buite die lodge se perseel te beweeg om die voëllewe in die droë doringveld te verken. Die plaaslike inwoners wat by die lodges werk sal inligting kan verskaf oor hoe en waar om spesiale spesies soos die Visuil (Scotopelia peli) en Rooikeelreier te kan aantref.
Voëlkykery.
1. Groot kanale: Om die voëllewe met die rivier langs behoorlik te bekyk beveel ons aan dat jy ‘n bootrit vanaf een van die Lodges meemaak. Die grootste gedeelte van die hoofrivier en die kanale is begrens met digte papirus en ander rietsoorte. In bykans enige area waar die papirus dig groei, sal jy die Groot Moerasvink aantref. Die ander kleiner bruin voëltjies wat dikwels hier voorkom is die Afrikaanse Oewerswael. Jy sal hulle sien rondflits in die plekke wat fragmietriete het. Die vroegoggende is die beste tyd om te sien hoe die Rooiborsjakkalsvoëls in die son tussen die papirus sit. Dit is ook dan wanneer hulle hul stemme laat hoor.
Gedurende Augustus tot Oktober, tydens die jaarlikse “baberloop”, ontwaak die rietbeddings uit hul winterslaap. Die dalende watervlakke dwing reuse skole katvis uit die vloedvlaktes tot in die hoofrivier. Dit versteur die kleiner visse en insekte en veroorsaak so ‘n vlaag van koorsagtige vretery onder die visse en voëls. Dit is iets om te aanskou! Swerms van honderde Grootwitreier, Kleinwitreier, Swartreier, Ralreier, asook groot aantalle Rooipensreier, Visarende en ander watervoëls sit dan vir honderde meters met die rivier langs, op die rivieroewers.
Die vertikale banke in sekere gedeeltes van die rivieroewer is die tuiste en broeiplek van die Reusevisvanger, Bontvisvanger en Kuifkopvisvanger. Vanaf Augustus tot Oktober vergader honderde Rooiborsbyvreters hier om te broei. Dit is ‘n gesig wat enige natuurliefhebber na sy of haar asem sal laat snak. Een van die beste plekke om dit te sien, is die vertikale bank reg voor Shakawe Lodge se kampeerterrein. Rooikeelbyvreters en Kleinbyvreter, asook Afrikaanse oewerswael en Gebande oewerswael broei ook hier.
2. Strandmere en poele: Die strandmere en poele om Shakawe is die ideale habitat vir die Witrugeend, Grootlangtoon, Dwerglangtoon, Dwergvleihoender en Dwerggans. Hierdie voëlspesies broei ook in die bome om Shakawe Lodge in die laatsomer.
3. Seisoenale sandbanke: Gedurende die maande wat die watervlakke laag is, het die hoofrivier groot sandbanke op die binneste kronkelings van die rivier. Enige groterige sandbank sal broeiende Witvlerkmeerswael, Bloukopdrawwertjie en ander moerasvoëls huisves. Waar die sandbank en die vloedvlakte bymekaar aansluit, vorm modderige gebiede tussen die sandbanke en die riete. Dit is die beste plek om vroegsoggens te kyk hoe die Gevlekte Vleikuikens uit hul wegkruipplekke tussen die riete kom. Wees ook op die uitkyk vir Rooibandstrandkiewiet en Groenpootruiters. Dit is ook die moeite werd om vroegsoggens te sit en wag vir Grootbruinseeswaels (Noddie’s) wat dan in groot swerms kom drink. Ander voëls wat graag op die sandbanke hou, sluit Witkopkiewiete, Dikkoppe, Geelbekooievaars en groot swerms Nonnetjie-eend en selfs nou en dan ‘n Fluiteend in. Die sandbanke is ook die plekke waar ‘n mens interessante en skaars spesies soos die Rooivlerksprinkaanvoël, Krombekstrandloper, Drietoonstrandloper en Kleinstrandlopers sal aantref.
Een van die mees gesogte spesies van Shakawe is beslis die Visuil. Albei Lodges verskaf bygewerkte inligting oor waar ‘n mens die uile wat op die oomblik daar woon, kan opsoek. Die maklikste manier is om ‘n begeleide aandbootrit mee te maak, sodat ‘n mens kan probeer om te sien hoe die uile jag. Hulle jag gewoonlik vanaf die takke wat laag oor die rivier hang. Die gebied wat Lloyds Lagoon genoem word, is amper altyd die besste plek. Om self die Visuil te probeer opspoor, beweeg in die woudgebied agter die laaste chalet by Shakawe Lodge in. Kyk goed na die wouddele met ‘n besonder digte blaredak, veral die jakkalsbessieboom en worsboom. Hulle sit gewoonlik hoog in die takke, ver van die water af, en sal nie sommer te voorskyn kom tensy jy reg onder hulle deurstap nie.
Nagvoëls: Die gebiede om Shakawe Lodge se werkswinkels en stoorkamers huisves groot aantalle broeiende Egiptiese Losstertvlermuise en Vespervlermuise, wat net voor donker saans gereeld ‘n honger Vlermuisvalk lok. |