Tel +27 (0) 21 8550395 Address: 11 Broad Oaks Slot Somerset-Wes,7130 Suid-Afrika ENGLISH |
|||||
---|---|---|---|---|---|
|
|||||
BOTSWANA – SAFARILANDBotswana is by uitstek ‘n land vir safari’s. Laat ons vir jou ‘n safari ontwerp wat by jou behoeftes pas. ‘n Mens hoef nie ander mense in ag te neem as jy jou eie hardverdiende geld op so ‘n unieke belewenis bestee nie. Ons voorsien die voertuig, slaan kamp op en maak seker dat jy die reis terdeë geniet. In Botswana is akkommodasie nie goedkoop nie, maar jy sal verbaas wees om te sien hoe bekostigbaar ‘n privaat-safari met 4 mense kan wees. Moenie nog wag om ons te kontak nie. Botswana se afgeleë parke en reservate het ‘n ryke verskeidenheid dierelewe wat deur relatief min gelukkige mense beleef word. Botswana is ‘n vreedsame land in suidelike Afrika wat deur land omring word en haar grense met Suid-Afrika in die suide en ooste, Namibië in die noorde en weste, Zimbabwe in die noordooste en Zambië in die noorde deel. Sedert die onafhanklikheidswording in 1966 het Botswana toenemend welvarend geword en die land het ‘n netwerk goeie paaie. Die bekende Okavango Delta is die grootste binnelandse rivierdelta in die wêreld. Die ontelbare aantal klein eilandjies is die tuiste van ‘n verstommende verskeidenheid voëls, plante en diere. Die water krioel van die seekoeie en krokodille. ‘n Mens reis hoofsaaklik in Mokoro’s (uitgeholde kano) en dit is ‘n stil en rustige belewenis. In die Chobe Nasionale Park wat wêreldwyd erken word vir die reuse olifantbevolking, is dit moontlik om troppe van letterlik honderde van hierdie majestueuse diere te sien. Chobe se 10 000 vierkante kilometer is gepak met diere soos leeus, jagluiperds, buffels en talle ander. Boonop is die voëllewe ongeëwenaard. By die Makgadigadi-panne, suidoos van Chobe, sal jy groot troppe blouwildebees en etlike boksoorte kan sien. Die flaminke is iets om te sien. Die res van Botswana word meestal deur die Kalahari-woestyn in beslag geneem. Dis ‘n uitgestrekte gebied van sand, savanne en grasvelde en is een van die natuurstreke in Afrika met die rykste verskeidenheid dierelewe. As jy eers in Botswana is, is jy naby aan die Victoria-watervalle. Of jy nou die Victoria-watervalle vanuit Zambië of Zimbabwe wil besoek, jy is minder as 200 km daarvandaan terwyl jy in Chobe kuier. Verken hierdie ekologiese wonderwêreld onder die leiding van Temba Safaris. Kies jou eie kundige en deeglik-opgeleide safari-gids of wildbewaarder. Ons pasmaak safari’s wat al die hoogtepunte insluit, met ander woorde die wêreldbekende Okavango Delta en die Sentrale Kalahari Nasionale Park. Botswana bly maar een van die juwele van Afrika. Die infrastruktuur is dalk nou nie heeltemal dit waaraan die Weste gewoond is nie, maar die land kombineer ‘n asemrowende wildernisbelewenis met die voordele van baie moderne fasiliteite. Botswana lê tussen Suid-Afrika aan die suidooste, Namibië aan die weste en noorde en Zimbabwe aan die noordooste. Botswana is ‘n pragtige, ongerepte land. Zambië lê aan die verste noordoostelike grens van Botswana – reisigers het dus maklik toegang tot baie van Afrika se uniekste natuurwonders. Botswana het dalk as ‘n arm Afrikaland begin, maar sedert die land in 1966 onafhanklik van die Verenigde Koninkryk geword het, het dit ontwikkel tot een van Afrika se welvarendste lande. Dit kan aan diamantmynaktiwiteite en beesboerdery toegeskryf word. Vandag is toerisme een van Botswana se lewendigste en florerende nywerhede. In Botswana is Temba as Sabaki Safaris werksaam. As jy by die Martin's Drift grenspos inkom, sal jy jouself spoedig in die Tuli-Blok bevind. Daar is planne om nog ‘n Oorgrenspark in hierdie gebied te ontwikkel, wat grond in Botswana en buurlande sal insluit. Dis die moeite werd om die Tuli Wildreservaat te besoek. Jy sal olifante, leeus, luiperds en ‘n groot verskeidenheid ander wild kan sien. Indien jy op soek is na luukse akkommodasie in die Tuli-Blok in Botswana, sal jy sien dat Tuli Safari Lodge ‘n goeie opsie is. Die klein dorpie Palapye is 100 km noord van Martin's Drift. Jy kan ook vanuit Gaborone reis, waar jy dan via Mahalapye by Palapye uitkom. Vanaf Palapye kan jy noord reis na Francistown of die westelike roete na Serowe neem. Die Serowe van vandag is ‘n relatief moderne stad, maar dit was tot redelik onlangs as die tradisionele hoofstad van Botswana bekend. Baie min het egter van die tradisionele Afrika-huise oorgebly. Baie mense weet nie dat Botswana die wêreld se grootste produsent van diamante van hoë gehalte is. Orapa is ‘n sekuriteitsdorpie omdat die meeste van die diamantontginningsaktiwiteite om hierdie dorpie geleë is. Jy kan die dorpie slegs met ‘n permit binnegaan. Vul jou voorrade en brandstof in Orapa se tweelingdorpie, Lethlakane, aan. As jy dalk wil oorslaap, is akkommodasie by die Mikelele Motel beskikbaar. Orapa is op die hoofpad noordwes van Serowe. Van Orapa af is dit slegs 30 km na die Khama Renoster Park Hierdie reservaat van 8000 ha is vernoem na die huidige president van Botswana se vader. Soos die naam aandui, word renosters en talle ander wildspesies hier aangetref. Netjiese selfsorg chalets is beskikbaar en dit is regtig ‘n heerlike kampeerplek op jou reis na die noorde. Verder wes loop die pad om Orapa na Mopipi en Rakops. Die enigste akkommodasie in die piepklein dorpie Rakops is Xere Motel. Die volgende punt op hierdie pad is Maun. Maun is ‘n besige middelpunt in Botswana. In vele opsigte is dit ‘n brandpunt vir enige reisiger, omdat dit die poort na die Okavango Delta na die noorde is en ‘n besige lughawe vir ligte vliegtuie het vir al die besoekers wat invlieg. Maun is ongelukkig nou nie juis baie mooi nie, maar dit is beslis baie interessant. Te oordele aan die ietwat chaotiese dorpsuitleg, lyk dit asof die dorpsbeplanners eers na die grootste deel van die dorp gebou is, hier opgedaag het. Baie besoekers slaap oor in Maun voor hulle na die Moremi of Chobe Nasionale Parke vertrek. Dit is die perfekte plek om jou brandstof en kosvoorrade aan te vul voordat jy die ruigtes aandurf. Dit is moontlik om motors te huur, en talle aktiwiteite, soos vlugte oor die Delta, word uit Maun gedoen. Maun sien goed na besoekers om. Maun Lodge en Riley's Hotel bied hotel-akkommodasie aan, terwyl Island Safari Lodge en Thamalakane River Lodge albei uitstekende bekostigbare verblyf op die Thamalakane River aanbied. Okavango River Lodge het sakpas-selfsorgakkommodasie nader aan Maun.
Santawanti Lodge is ‘n bekostigbare lodge oppad na die ongerepte areas. Alhoewel die wild in hierdie gebied beperk is, is dit nogtans ‘n goeie oornagplek, net soos die Kaziinkini kampeerterrein naby die South Gate, wat die suidelikste hek van die Moremi Nasionale Park is. Die eerste kampterrein in die Moremi Nasionale Park word South Gate genoem. Van South Gate moet jy minstens 40 minute voorsien om die 30 km na North Gate of Khwai-rivier af te lê. Hiervandaan kies die meeste reisigers die roete oor Third Bridge of Xaxanaka. Third Bridge het nie ‘n openbare kampterrein nie. Xakanaxa is dieper in die Okavango Delta geleë en het drie lodges: Camp Moremi, Xakanaxa Camp en Camp Okuti. Hulle is almal luukse lodges, maar daar is ook ‘n openbare kampterrein indien jy dit verkies om te kampeer. Laat 2 ure toe om die 60 km na North Gate af te lê. Hier kan jy uitkamp as jy wil oorbly, of jy kan die besoek. Indien jy kampering verkies, is daar die openbare kampterrein by Khwai-rivier, of die gemeenskapskampterrein in die nedersetting by Khwai. Hierdie gebied is bekend vir wildbesigtiging in in Botswana. Van hier af is die pad noordwaarts na die Savuti meestal diep sand. Dit gaan maar stadig, maar as jy Savuti in the Chobe Nasionale Park bereik sal jy sien dat dit die moeite werd is. Daar is ‘n openbare kampterrein by Savuti. Jy het ook die keuse van ‘n besoek aan die Savute Elephant Lodge – ‘n luukse ondervinding vir diegene wat dit kan bekostig. Vanaf Savuti neem dit omtrent 4 ure om die afstand na die Chobe-rivier en Kasane af te lê. Alternatiewelik kan jy uitwyk na die bekende Linyanti-moerasse. Linyanti is omtrent 2 ure se padreis noord van Savuti. Die pad is uiters sanderig en jy moet baie stadig ry. Vanaf Linyanti neem dit omtrent 4 ure om by die dorpie Kasane uit tekom. As jy eers in Kasane aankom, het jy etlike keuses om van Afrika se mooiste gebiede te sien. Daar is uitstekende lodges naby Chobe en Kasane. Chobe Safari Lodge word sterk aanbeveel en is wêreldbekend. Hulle bied 4-ster luukses aan en het nog die voordeel daarvan om teenaan die grens met die Chobe Nasionale Park geleë te wees. Mowana Safari Lodge is duurder, maar het topklas-fasiliteite soos ‘n gholfbaan en spa. Toro Lodge is meer bekostigbaar. Dan is daar nog Senyati Safari Lodge wat selfsorg-akkommodasie en kampering in die natuur aanbied. Die lodge het ook sy eie watergat. Die meeste mense wat Kasane en Chobe in Botswana besoek is in die versoeking om die Victoria-watervalle in Zimbabwe te besoek. Die Victoria-watervalle is slegs omtrent 90 km ver, en bly steeds een van die wêreld se natuurwonders. Daar is oorgenoeg hoë gehalte en bekostigbare akkommodasie in en om die dorpie Victoria Falls. Ilala Lodge bied luukse hotel-akkommodasie naby aan die watervalle aan en die Kingdom Hotel bied uitstekende waarde vir geld. Die A'Zambezi River Lodge is verder stroom-op op die oewer van die Zambezi. Die baie luukse Elephant Hills Hotel word deur ‘n 18-putjie gholfbaan omring. Die Victoria Falls Hotel het ‘n ryke geskiedenis wat tot die begin van die vorige eeu terugdateer. Jy sal verruk wees deur die luukse en ouwêreldse atmosfeer. Indien jy van kampering hou of op soek is na selfsorg akkommodasie, hoef jy nie verder as die Victoria Falls Rest Camp te soek nie. Dit is nie net die asemrowende Victoria-watervalle wat ‘n trekpleister in die dorpie van Victoria Falls is nie. Hierdie plekkie het ook Afrika se avontuur-hoofstad geword. Neem ‘n vlug oor die Victoria-watervalle in ‘n helikopter, of pak die uitdaging van white water rafting in klas-5-stroomversnelling aan. In Victoria Falls kan jy saam met leeus stap, gaan bungee-jump of voel hoe dit is om op die rug van Olifant te ry. Vir diegene wat hou van rustiger aktiwiteite, is daar altyd die keuse van ‘n sonsak-rit op die Zambezi. Dan is dit weer terug na Kasane. Indien jou tyd beperk is, kan jy vanaf Kasane reguit terugkeer na Suid-Afrika via Nata en Francistown. Dan sal jy suid reis vanaf Kasane en die eerste dorpie wat jy sal teëkom is Pandamatenga. Pandamatenga word dikwels die “Broodmandjie” van Botswana genoem omdat daar groot kommersiële plase in hierdie gebied is. Hou jou oë oop as jy tussen Kasane en Pandamantenga reis, omdat die pad dikwels in hierdie gebied deur olifante oorgesteek word. Om snags te reis kan uiters gevaarlik wees en ons beveel sterk aan dat jy dit moet vermy. Nata is 300 km suid van Kasane. Nata is ‘n klein dorpie halfpad tussen Maun en Kasane, en 200 km vanaf Francistown. Nata Lodge en Northgate Lodge is goeie keuses vir oornagpunte. Die Elephant Sands Lodge is net noord van Nata. Nata is op die rand van die Makgadigadi-panne in Botswana. Die Makgadigadi is die wêreld se grootste soutpanne en die eindelose barre vistas is indrukwekkend. Omtrent 100 km wes van Nata is ‘n klein dorpie genaamd Gweta waar jy by die Gweta Lodge of Planet Boabab kan kuier. As jy die stilte en grootsheid van die yslike woestynagtige panne wil beleef, kan jy ook ‘n meer luukse en uiters romantiese opsie by Jack's Camp oorweeg. As jy daar oorbly, sal jy bederf word met ‘n vierwielmotorfiets (“quad bike”) uitstappie op die panne, en jy sal ook ‘n nag onder die sterre op die panne kan deurbring. Van Nata af is dit ‘n maklike reis suid tot by Francistown, Botswana se tweedegrootste stad. Francistown is ‘n industriële punt met min toeriste-aantreklikhede, maar bied ‘n goeie oornagpunt vir diegene wat vanaf Kasane, die Okavango Delta of Bulawayo in Zimbabwe reis. Woodlands, wat 10 km noord van Francistown geleë is, is ‘n ideale opsie vir kampering of ‘n gesins-oornagpunt. Die Tapamha Hotel of die Metcourt Hotel in Francistown is alternatiewe opsies. As jy jouself in Kasane bevind en meer tyd tot jou beskikking het, kan jy daaraan dink om rondom die Okavango Delta te reis. Dit beteken dat jy die grens by die Ngoma Bridge grenspos sal oorsteek en 1 of 2 aande by akkommodasie in Caprivi kan deurbring voordat jy via Shakawe na Botswana terugkeer. In vergelyking met ander plekke in die Okavango Delta is akkommodasie naby Shakawe redelik bekostigbaar. Drotsky's Cabins is die gewildste lodge vir akkommodasie en verblyf op die westelike kant van die Okavango Delta. Jy hoef nie ‘n 4 x 4 te hê om by die Drotsky's Cabins uit te kom nie. Nguma Island Lodge is ‘n meer luukse opsie in hierdie gebied. Die Lodge is verder met die Delta in en suid van Shakawe. Delta Dawn is Nguma Island se kampterrein. Die geriewe is goed en daar is uitstekende hengelgeleenthede. Die uitsig oor die delta vanaf Nguma Island Lodge slaan jou asem weg. Jy kan Nguma Island slegs met ‘n 4 x 4 bereik. Vanaf Shakawe reis jy met die westelike rand van die Delta langs tot by Ghanzi. Daar is minder wild op hierdie roete, omdat die area vir gemeenskaplike boerdery gebruik word. In hierdie gebied word die Okavango Delta egter net so goed as elders in Botswana bewaar. Die voëllewe in die westelike rand van die Okavango Delta is bes moontlik die beste wat jy in Botswana gaan sien. Die hengelgeleenthede in hierdie area is net so goed. Ghanzi is een van die poorte na die Kalahari. Die Central Kalahari Game Reserve is oos van Ghanzi en is die wêreld se grootste Nasionale Park. Botswana Nasionale Parke het nou ‘n kantoor in Ghanzi waar jy jou parkfooie kan betaal. Die meerderheid mense wat die Central Kalahari Game Reserve besoek is avontuurlustige tipes en verkies dit om in een van die openbare kampterreine te kampeer. Daar is egter twee luukse lodges aan die noordekant van die park. Deception Valley Lodge en Haina Safari Lodge bied albei akkommodasie van hoë gehalte en begeleide aktiwiteite aan. Ghanzi is ‘n distrik in Botswana met florerende beesboerderye. Net buite Ghanzi is Thakadu Camp. Thakadu Camp is ‘n wildplaas met bekostigbare, skoon tent- of chalet-akkommodasie. Hul diens is uitstekend. As jy suid reis, sal jy die Trans Kgalagadi Hoofweg bereik en sommer gou by Kang uitkom. Hierdie dorpie lê halfpad tussen Johannesburg en Windhoek en is ‘n natuurlike oornagpunt – maak nie saak waarheen jy oppad is nie. Hier beveel ons die Kang Ultra Stop sterk aan. Die lodge is ‘n oase op hierdie stowwerige en besige roete. Echo Lodge is ‘n ewe bekostigbare opsie in Kang. In Lobatse, omtrent 60 km van Gaborone af, sal jy die fabrieke sien wat Botswana se vleisvoorrade verwerk. Die Mokolodi Natuurreservaat is ‘n rustige oornagpunt naby Gaborone en het baie wild, insluitend renosters. Die akkommodasie wat hier aangebied word is netjiese selfsorg chalets of basiese kampplekke. Die enigste kampeerterrein in Gaborone is by City Camp. Dit is basies, maar skoon, maar hul diens en besprekingstelsel is laat veel te wense oor. Jy kan dalk moontlik net inloer en sien of daar vir jou ‘n kampeerplekkie is. Hulle het ook ‘n paar basiese selfsorg chalets. Doen al jou besprekings vir Afrika Botswana akkommodasie deur Temba. Ons doen aanlyn-besprekings vir Botswana Nasionale Parke. Ons stel toere saam na gelang vir jou behoeftes en maak seker dat jy minder vir Botswana en Okavango lodges en ander akkommodasie betaal. Botswana safari’s moet eenvoudig ‘n Okavango-safari insluit. Dit is dalk duur, maar ‘n Botswana luukse safari bly maar die beste pasmaak toer waarvan jy kan droom. Ons kan jou individuele pasmaak vakansie in Botswana en Okavango maklik saamstel teen pryse wat onmoontlik is om te ewenaar of te verbeter. |